top of page

Die Plaas Skuif Binnenshuis

Source: Taalgenoot Fotos: Andre Badenhorst


Verbeel jou ’n plaas sonder peste en gifstowwe wat die maksimum oes lewer teen die minimum koste - reg op die stedelike verbruiker se stoep! Hierdie soort boerdery bestaan reeds....


Dit is ’n debat so oud soos die berge. Hoe los ons die vraagstuk van voedselsekerheid op? Hoe voed ons ’n nasie waarvan die meeste gesinne onder die bestaansminimum lewe?

Die voortslepende oorlog in Oekraïne bewys weer dat ons hier op tuisbodem te veel kos invoer. Dié oorloggeteisterde land is die wêreld se grootste uitvoerder van sonneblomolie en sy konflik met Rusland het tot gevolg dat kookolie se prys - ook hier in Suid-Afrika - die hoogte ingeskiet het.


In Noordwes, in distrikte soos Coligny, word talle hektaar sonneblomme verbou. Die probleem is dat sonneblomme weens die wisseling in klimaat seisoenaal is.


NADER AAN DIE MARK


’n Oud-rocker en deesdae entrepreneur van Pretoria is van mening dat hy ’n oplossing gekry het om die nasie teen ’n bekostigbare prys te kan voed.


“Alle koste gaan op,” sê Juan Pollard (39). “Die petrolprys veroorsaak dat dit nóg duurder raak vir boere om hul varsprodukte by markte en winkels uit te kry. Ons doel is om die kos nader aan die mark te bring.”


Die voorbok van die rockgroep Tot Stilstand is mede-eienaar van Urban Cultivation International, ’n maatskappy wat toerusting vir binnehuise vertikale landbou verskaf. Dié toerusting bestaan uit ’n vertikale raam, ’n hidroponiese stelsel en gesofistikeerde ligte waarmee boere en individue regdeur die jaar vars groente en kruie.



“DIE DOEL IS OM BOERE, EN SELFS WINKELGROEPE, IN STAAT TE STEL OM STADSBOERE TE WORD EN DIE HELE VOEDSELKETTING VAN ONDERNEMING NA ONDERNEMING TE BREEK EN ’N KETTING TE SKEP VAN ONDERNEMING NA VERBRUIKER.”


“Die doel is om boere, en selfs winkelgroepe, in staat te stel om stadsboere te word en die hele voedselketting van onderneming na onderneming te breek en ’n ketting te skep van onderneming na verbruiker,” sê Juan.


“In Suid-Afrika is daar sekere produkte wat ons nie heeljaar kan kweek nie. Die meeste van ons aarbeie, byvoorbeeld, word vir ses maande van Israel ingevoer. Hierdie stelsel stel boere en individue in staat om heeljaar enige produk te kweek.”


Juan wys die stelsel wat hulle by hul winkel in Silver Lakes, Pretoria, bedryf.


“Hierdie is amper soos ’n ICU-kamer. Dit is steriel, wat beteken dat daar geen peste of plae is nie en ons geen gifstowwe hoef te gebruik nie. Die groente en kruie is dus varser en gesonder.”


Juan en sy span toets verskeie variante om te bepaal of daar goedkoper opsies is vir die variante wat in die mark beskikbaar is. Die water vir die hidroponiese stelsel word gefiltreer en gestroop van enige chemikalieë en chloor. Die stelsel het drie vlakke, met 12 bakke op elke vlak. Daar is ’n robotlaai wat elke bak op ’n vlak kan gaan haal en na die punt van die raamwerk bring.


En basta met Eskom, want die stelsel werk met sonpanele.


“Dit is egter ’n kopseer vir boere op plase. Van die boere wat ek al toerusting voor verskaf het se sonpanele kry voete. Dit is dus nie ideaal om die stelsel in landelike gebiede te hê nie. Dit is vir die stadsboer.”



VERMINDER UITGAWES


In Juan se model kweek hy op die oomblik basiliekruid, marog, blaarslaai en sprietuie. Dit kos tussen R550 000 en R600 000 om die stelsel op die been te kry.


“Hierdie stelsel is so te sê outomaties en benodig min arbeid. Om ’n hektaar se grond te huur kos sowat R17 000. Gifstowwe vir daardie hektaar kan jou R5 000 ’n maand beloop. Dan moet jy arbeid en vervoerkoste ook dek.”


Tans verskaf hulle die toerusting ook aan hotelgroepe en boere in Zanzibar en Mauritius.

Juan, ’n boorling van Bethal in Mpumalanga, het nog altyd ’n passie gehad vir landbou. “Ek sou as kind gereeld verskeie plante en groente kweek. My eerste binnehuise stelsel het ek met ’n straatlig in my kamer gebou.”


Hy het aanvanklik met industriële toerusting gewerk. “In 2016 het die gronddebat weer opgevlam. Boere het begin vrees dat ons ’n Zimbabwe op ons hande het. Dit was om hierdie rede dat ons besluit het om Urban Cultivation International te stig.”


Hy het begin navorsing doen en lande soos Duitsland en Amerika besoek om te bepaal waar hy ’n vervaardiger vir die toerusting kan kry. Hy het uiteindelik een in China opgespoor.

“Die koste is amper die helfte minder as in lande soos Duitsland,” sê hy.


“Ons as Afrikaners was nog altyd nostalgies as dit by grond kom, maar ons gaan moet aanpas. Daar word geraam dat teen 2050 sowat 70% van die bevolking in stedelike gebiede gaan woon.”


Hy meen hierdie stelsel sal beteken dat dit nie nodig is om 50 km of meer buite ’n dorp te bly om sekere gewasse te kan kweek nie. En kommersiële boere kan op groot skaal boer.

“Die grootste stelsel se raamwerk is 50 m hoog en bestaan uit 20 vlakke. Daar kan dus per maand tonne gewasse gekweek word. Selfs supermarkte kan in hul stoorkamers die stelsel hê en vars en gesonder produkte direk op hul rakke sit.”


Hierdie entrepreneur wil die reuse in die bedryf wys waar Dawid die wortels gegrawe het. “Ons wil hulle aanvat. Ons wil die mark op sy kop keer en wys dat om die land te voed veel goedkoper kan wees en ons ’n einde aan die kwessie van voedelsekerheid kan bring.”


Die syfers praat


Met ’n stelsel wat vyf vlakke en 12 bakke op elke vlak het kan jy in 30 dae die volgende oeste toon:

  • Een bak lewer 9 kg basiliekruid. Elke vlak kan 108 kg lewer en in totaal sal jy 540 kg se basiliekruid kan verbou;

  • In vier weke se tyd kan jy 25 kg se blaarslaai per bak kweek en met dieselfde stelsel sal jy 1,5 ton se blaarslaai kan lewer.

bottom of page