top of page

Omskep binnenshuise ruimte in ’n plaas of verander jou tuin in ’n eetbare akker


Nisboere het onlangs by twee innoverende ondernemings gaan kuier waar ons geleer het dat jy glad nie ’n boer hoef te wees of hektare en hektare grond hoef te besit om groente doeltreffend te begin kweek nie.


Eers was ons by Urban Cultivation International in Pretoria, waar ons gesien het hoe jy van enige binnenshuise ruimte ’n plaas kan maak.



Een van hul stelsels wat ons veral geïnteresseer het, is hul groeihouer, of – soos ’n mens in Engels sê - grow container. Dié innoverende konsep is ontwikkel deur ’n multidissiplinêre span van onder andere prosesingenieurs, bemestingspesialiste, besproeiingskundiges en groeiadviseurs. Dis spesiaal so ontwerp dat dit letterlik vir enige onbenutte spasie in jou huis, restaurant of kafeteria by die kantoor aangepas kan word.


Dit laat jou ook toe om die spasie wat jy wél het ten beste te benut en stelselmatig aan te pas, aangesien jy tot soveel as 12 groeihouers op mekaar kan stapel. Boonop is die stelsel doelbewus geïntegreer met outomatiese hidroponiese tegnologie wat verseker dat daar presiese dosisse water en voedingstowwe toegedien word vir die optimale groei van gewasse en vir minimale vermorsing.


Om dié rede is dit oor die algemeen ook heelwat ekovriendeliker en kostedoeltreffender as die meeste tradisionele boerderymetodes. Dat jou gewasse in ’n beheerde omgewing gekweek word waar dit nie aan natuurelemente blootgestel word nie, het ook heelwat ander pluspunte.


Eerstens benodig jy nie plaag- of onkruiddoders nie. Tweedens kan jy heeljaar deur oes en jou gewasse groei heelwat vinniger. Trouens, daar is sommige gewasse wat jy binne 15 tot 20 dae kan begin oes vanaf die oomblik dat dit begin spruit. Klik gerus hier om sommer vandag nog met Urban Cultivation International te gesels oor die vestiging van jou eie binnenshuise plaas.


Indien jy wel ’n stukkie grond of ’n tuin op jou erf het, kan jy gerus ook kontak maak met Urban Harvest Edible Food Gardens in die Kaap en met hulle gesels oor hoe om dit in ’n “eetbare tuin” te omskep waaruit jy binne ’n kort rukkie groente kan begin pluk. Vandat hulle in 2006 gestig is, het hulle al meer as 500 tuine dwarsoor Suid-Afrika geskep wat nie net voedsel produseer nie, maar ook estetiese waarde het.


’n Groot voordeel van hul baanbrekersdienste is dat hulle jou van begin tot einde kan bystaan met die aanplant van jou eetbare tuin - van die ontwerp en vestiging tot die deurlopende instandhouding daarvan … alles op só ’n manier dat jy terselfdertyd soveel as moontlik kostes en natuurlike hulpbronne bespaar. Om die langtermyn-volhoubaarheid van jou tuin te verseker, gebruik hulle byvoorbeeld verskeie waterbesparende tegnieke.


Dit sluit in reënwater-opvangstelsels of biofiltrasiestelsels waarmee jy jou gryswater vir hergebruik in jou tuin kan filtreer. Met gryswater bedoel ons natuurlik die water wat jy gebruik het vir huishoudelike doeleindes soos om te bad en skottelgoed of wasgoed te was.

Indien jy van nature groen vingers het en hou van die uitdaging om jou eie ding te doen, kan jy ook een van hul kursusse bywoon om by spesialiste te leer hoe om jou eie eetbare tuin suksesvol aan die gang te kry en in stand te hou.


Klik hier vir meer inligting. Volg @Nisboere op Facebook om jou vordering met ons te deel.

bottom of page