top of page

Die Toekoms van Vars Produkte

Landbouweekblad 5 Augustus 2021


Meer mense in stede, natuurlike hulpbronne wat skaarser word en vervoerkoste wat styg, het die moontlikheid van stedelike voedselproduksie ’n werklikheid laat word. ’n Jong maatskappy in die ooste van Pretoria wys hoe boere na stede en dorpe kan uitbrei om hul produkte amper in die verbruiker se skoot te produseer.



Die ooste van Pretoria is ’n studie in kontraste, waar die hoë-inkomste-woonbuurt

Silver Lakes en die historiese township Mamelodi skouers skuur. Dit is hier, in ’n

nywerheidsgebied, waar die maatskappy Urban Cultivation International met mnre. Juan Pollard en Christof Bothma aan die stuur van sake, stilweg besig is om

’n revolusie in voedselproduksie van stapel te stuur.


Pollard sê Urban Cultivation het vier jaar gelede begin. “Ek het ’n leemte in die mark

gesien vir ’n stelsel wat die groot produksieuitgawes, soos vervoer en oesbeskermingsmiddels, kan verminder, terwyl produkte wat tradisioneel ekstensief geproduseer word, in pakhuise of leë geboue in stedelike gebiede verbou word.


“Die stelsel beskerm vars produkte wat gewoonlik groot hoeveelhede oesbeskermingsprodukte benodig, bespaar tot 90% op water en bemesting, verkort produksietydperke aansienlik, en bied produkte wat onaangeraak is deur gure weerstoestande.”


Dit was nie ’n nuwe idee of oplossing nie, maar Pollard wou verseker hy bring die beste stelsel moontlik na Suid-Afrikaanse boere.


Hy het dus reg oor die wêreld na verskillende produksiestelsels gaan kyk om ’n

werkbare oplossing vir plaaslike omstandighede te vind.


“Daar is ’n magdom voorstelle, oplossings en stelsels, elk met sy eie voordele, maar ek

het grootliks gekyk na ’n stelsel wat bekostigbaar is en in Suid-Afrika as lewensvatbare

en langdurige oplossing kan dien. Die stelsel wat ons hier gebruik, kom uit China en ons

het die afgelope vier jaar gesien dat dit goed werk en kostedoeltreffend is.”


Hoewel Urban Cultivation hoofsaaklik die hardeware van die stelsel verskaf, wat ook die installering daarvan insluit, het die maatskappy ook ’n navorsings-en-toetsafdeling wat heeljaar vars produkte kweek om die beste raad aan boere te kan gee oor soorte

en gewigte.


“Die stelsel is uitstekend vir alle blaargewasse en sekere kruiespesies. Ons het gevind aarbeie pas ook goed in by die produksiestelsel.” Pollard sê die maatskappy bied meer as

slegs ’n hardeware-diens.


“Ons help boere in die regte rigting wat betref saadaankope, voedingstowwe en raad

oor verkope. Volhoubare produksie is die uiteindelike mikpunt. Die bemarking van

hul produkte moet boere egter self behartig.”


GROEITYD KORTGEKNIP

Binnenshuise groenteproduksie is bekend om die hoë vlak van tegnologie en monitering

wat benodig word. “Ons monitorstelsel sluit sensors en toerusting in wat onder meer grondvog meet (in gevalle waar gewasse in grond onder ligte verbou word). Dit is ook nie SIM-kaart-gebaseer nie, maar ons gebruik ’n klein ingeboude antenna met radiogolwe om die voggehalte te meet,” sê Bothma, die maatskappy se finansiële direkteur.


“Dan is daar slegs ’n maandelikse tarief om by die wolk aan te sluit. Tradisionele boere buite die stelsel kan ook die vogmeter gebruik. Dit werk met batterye en radiogolwe op die Sigfox-netwerk, wat dit kostedoeltreffend en eenvoudig maak.”


Benewens die monitering word voedingstofbeheerstelsels aangebring. Urban Cultivation besit ook die agentskap vir Dutch Lighting-stelsels in Suid-Afrika. “Ons kan dus die totale oplossing aan voornemende boere verskaf. Dit hoef nie ’n groot kommersiële plaas te wees nie. Dink byvoorbeeld aan koshuise of die gasvryheidsbedryf, mynbouhostels, plaaslike

gastehuise - alles markte wat deurlopend produkte benodig – en jy het ’n mark vir

jou vars produkte.” Die tyd van saad tot mark word aansienlik verminder.


“Omdat die ligdag-ure verstel kan word, daar deurentyd voedingstowwe en water beskikbaar is, en die klimaat aangepas kan word om presies in die plant se behoeftes te

voorsien, groei plante baie vinniger.” In ’n proef van Urban Cultivation het Landbouweekblad tydens sy besoek ’n tamatieplant gesien wat binne vier weke van saailing tot blom gegroei het.


ONKRUIDDODERS NIE NODIG

Omdat die groei-area heeltemal geïsoleer word, is daar nie siektes en plae wat die

jong plante kan beskadig nie. “Dit beteken dat geen plaagbestrydingsmiddels,

onkruiddoders of swamdoders toegedien hoef te word nie, want geen natuurelemente het ’n invloed nie. Ons geïsoleerde stelsel het nog geen plaag of siekte gehad nie,

dus was dit nog nie nodig om sulke produkte te gebruik nie. Indien daar iets in die groeikamer inkom, sal dit iets wees wat mense van buite af saam met hulle ingebring het.

Daarom is biosekerheid en toegangsbeheer so belangrik,” sê Bothma. Die stelsel kan aangepas word om arbeidsintensiteit te verminder, anders as in die geval van ekstensiewe produksiestelsels wat oor ’n groot werksmag moet beskik, veral tydens

plant en oestyd.


“Die stelsel kan onder meer met ’n hyser toegerus word wat die houers outomaties van

die hoogste rakke afbring. Een of twee werkers kan dan maklik die nodige take verrig.”

Laastens bied die vertikale stelsel ’n groter wins per m2 omdat die rakke op mekaar

gestapel word. Een m2 gaan jou dus baie meer opbrengs op jou belegging gee.


KOSTE VAN DIE STELSEL

Bothma verduidelik die basiskoste per m2 is sowat R5 000. “Dit sluit die tegnologie,

soos ligte, rakke en die vervoermotor, in. Verdere koste, soos die isoleergerief, lugversorging, voedingstofbeheer, klimaatbeheer en geboubenodighede, sal van die boer en die projekgrootte afhang.” Prakties gesproke kyk ’n voornemende boer dus na ’n koste van sowat R12 500 per m2 vir die volledige stelsel en al sy benodighede.


Bothma wys daarop dat boere ’n slytasietoelae oor ses jaar ontvang vir belastingdoeleindes,

wat beteken ’n boer kan sy insetkoste vir belastingdoeleindes afskryf. Die maatskappy het reeds ses kommersiële eenhede in Suid-Afrika gevestig. Dit word ook in Amerika, Suid-Korea, China en Kanada gebruik. “Urban Cultivation verskaf ook ’n deeglik uitgewerkte sakeplan wat op ons tegnologie van toepassing is. Ons klante kry dus per produk wat hulle wil kweek, toegang tot die moontlike koste en finansiële verhou ’n mark, veral hoëgehalte-, vars voedsel wat maklik verkrygbaar is.”


Hoewel blaargroentes hoofsaaklik binnenshuis verbou word, meen Pollard daar is

plek in die stelsel vir groentes, soos broccoli en blomkool, en selfs vir tamaties. “Alles gaan

oor tyd en oor hoe vinnig jou oestyd vanaf saailing of saad tot produksie is. “Die siening dat binnenshuise verbouing ’n nismark is, is ook nie heeltemal waar nie. Jy kan met hierdie stelsel volhoubaar voedsel produseer, gerig op ’n mark wat nie noodwendig jou lewenstandaard-maatstafvlak (LSM) 8, 9 of 10 is nie, maar op daardie verbruiker wat bekostigbare, voedsame kos wil hê.”


Die plan kan onder meer gebruik word om finansiering te bekom omdat dit verskillende

gewasse se beleggingskoste en opbrengstye weergee.” Bothma sê een van die stelsel se grootste voordele is die produksie van gesogte gewasse buite tradisionele produksietye.

“Die stelsel kan ten beste benut word deur buite-seisoensprodukte te kweek en optimale verkooppryse te verdien. Indien sterk verkooppryse onderhandel word vir nisprodukte, kan die insetkoste binne twee tot vyf jaar verhaal word.”


ALTERNATIEWE SAKEPLAN

Hoewel die stelsel nooit tradisionele boerderye of maniere van boer kan vervang nie,

en net ’n bykomende oplossing vir huidige en toekomstige voedselverskaffingskwessies

bied, meen Pollard dit bied boere ook die geleentheid om produkte waarvan voorheen

te min verbou is, te lewer. Een van die gewasse wat uitstekend in die stelsel vaar, is krulkool (kale), wat vinnig besig is om opgang te maak. “Marog groei ook goed in die stelsel. Daar

is dus ’n gulde geleentheid vir produsente om ’n tradisionele Afrikaproduk in groot

volumes te kweek en te bemark.” Bothma meen die geleenthede vir verskillende gewasse is amper ontelbaar. “Na gelang van die prys wat jy vir jou produkte kry en die volumes wat geproduseer kan word, sal ’n boer altyd ’n afset vir sy produk hê. “Die belangrikste faktor bly egter om jouself van jou mededingers te onderskei en ’n handelsmerk te bou. Almal ken ZZ2 se tamaties, Wildeklawer se uie, TruCape se appels . . . Dít is waar ’n varsprodukte-produsent

homself moet posisioneer, sodat ’n supermarkgroep na jou toe kan kom en vra om jou reeks op sy rakke te hê. Ons boere word met pryse onder die duim gehou. “Begin dus jou eie afdeling, die tegnologie laat dit toe. Dit is waar die verskil lê: Gesonde, voedsame kos wat teen ’n beter prys aangebied kan word omdat die vervoerkomponent uitgeskakel word en doeltreffendheid verhoog is.”


GROTER VOEDSELSEKERHEID

Vir Pollard gaan Urban Cultivation se bedrywighede hoofsaaklik oor voedselsekerheid

vir ’n groeiende bevolking. “Sodra binnenshuise produksie ter sprake kom, dink almal dadelik aan die produksie van kannabis, maar met 8 000 aansoeke wat reeds ingedien is, gaan daardie mark vinnig versadig raak. Vir voedsel is daar agter altyd


’n Tamatieplant wat binne vier weke van saailing tot blomstadium gegroei het in Urban Cultivation se stelsel. Hierdie soort stelsels kan boere help om vinnig op marktoestande te reageer en skaars vars produkte vinnig te lewer. Produksiekoste kan drasties verminder

word deur slegs die voedingstowwe en water wat die plantjies benodig, op voorafbepaalde

tye van die groeisiklus aan hulle te gee. Een van die stelsel se grootste voordele is sy veelsydigheid. Dit kan ook aangepas word na gelang van die boer se behoefte of die kultivar wat verbou word.


“Dit kan in enige pakhuis opgerig word, wat beteken dit kan omtrent reg langs ’n

mark, supermark of ander afsetpunt opgerig word. Dit laat vervoerkoste drasties afneem.

“Boonop het die covid-19-pandemie daartoe gelei dat eiendomspryse in die kommersiële

eiendomsmark gedaal het. Daar is dus nou baie leë geboue wat benut kan word.”


SAMEWERKING MET BOERE

Pollard benadruk die voordele wat die stelsel vir tradisionele groenteverbouing inhou.

“Die grootste voordeel bly die nabyheid aan ’n mark, maar daar is ook oorwegings soos plaasveiligheid en die benutting van oop ruimtes in dorpe en stede, asook verdiepings in leë geboue wat in onbruik verval het. Daarby word baie water bespaar. “Die Voedsel-en-landbou-organisasie van die Verenigde Nasies beraam dat 70% van die wêreldbevolking teen 2050 in stede gaan bly. Dit beteken dat voedsel al hoe meer in stedelike gebiede geproduseer gaan word.” Die impak van klimaatsverandering moet ook in gedagte gehou word. “’n Mens moet nie bloot teen prys vaskyk nie. Die werklikheid is dat daar weens die

veranderende klimaat ’n skielike tekort aan tamaties kan ontstaan, of dat aartappels skielik

onbekostigbaar word. Deur binnenshuise verbouing word hierdie elemente grootliks uitgeskakel, en kan daar vinnig verstellings gemaak word om gewasse waaraan daar ’n

tekort is, te verbou.” Volgens Pollard kan stedelike verbouing en die tradisionele landbou saamwerk om te verseker daar is voldoende gesonde kos. “Ons wil met gevestigde boere saamwerk om ’n nuwe afdeling vir hul boerderye te verskaf. Sodoende word boere betrokkenes in hul gemeenskappe wat direk aan mense kos kan verskaf.” Sy droom, sê Pollard, is om ’n superstelsel op te rig waar verbruikers kan instap en hul eie vars produkte kan pluk en huis toe neem.


“In Duitsland en Nederland rig supermarkte hierdie soort stelsels op sodat klante

self hul produkte kan kom pluk. Die konsep het sowat €200 miljoen (sowat R3,4 miljard)

gekos om te vestig, maar dit word reeds suksesvol gebruik.” Pollard sê die moontlikhede is eindeloos. “Feitlik enige gewas kan binnenshuis verbou word.”


Navrae: Mnr. Juan Pollard, e-pos: sales1@urbancultivation.co.za web: www.urbancultivation.co.za



bottom of page